Agrisell Logo

Danie van Rensburg (Senior)

Danie is in 1948 op die plaas Kleinkruisrivier, Distrik Riversdal, gebore. Hy matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Langenhoven, Riversdal, met die pragtige “Slapende Skoonheid” berg in die noorde.

Danie trou met Christina van As en uit hul huwelik is 'n seun Danie en 'n dogter Marisa gebore en hulle is ook die trotse oupa en ouma van twee pragtige kleinseuns.

Hy begin werk vir 7 jaar by Standard Bank en sluit daarna aan by Boland Bank en word in 1988 bevorder tot takbestuurder.  Dieselfde jaar slaag hy sy EAAB eksamens.

In 2001 bedank hy en sy vrou by die bank en begin hulle hulle eie besigheid (sonder enige kliente), nl. tuindienste, vakansieverhuring en skoonmaakdienste in Jongensfontein en brei baie gou uit deur harde werk en bemarking.

Daarna sluit hulle in 2006 aan by Fanie du Toit Eiendomme, en dit was 'n baie geseënde vennootskap met goeie verkope.

Begin 2014 kom neem hulle seun Danie en sy vrou Welma hul verhuring en skoonmaakdienste oor en brei hulle, met groot geesdrif, die besigheid uit met bykans 80 huise en woonstelle wat hulle vir vakansieverhuring uitverhuur. 

Watter besonderse plek is Jongensfontein nie!  Jongensfontein is 'n weggesteekte juweel;  die rustigheid, veiligheid en natuurskoon maak dit uiters gewild. 

Jongensfontein lê in 'n panoramiese kom en bykans elke erf/huis het 'n uitsig op die see en is binne stapafstand van die see.  Diegene wat nog nie op Jongensfontein was nie moet by Danie (Tel. 083-2337 972) 'n huis huur en hier kom kuier!!

Danie se benadering tot kliënte behels eerlikheid, vriendelikheid en om 'n pad saam met hulle te loop.  "Wees te alle tye beleefd teenoor jou medemens!!" sê hy.   Sy hele loopbaan was immers om met mense te werk en om vir mense tot diens te wees.

In sy vrye tyd is hy lief vir kushengel en as die kans hom voordoen, toer en kampeer hulle graag by die mooi plekke in ons land en Namibië, veral by die Sanparke.

Danie en sy vrou is lief vir koorsang en hulle is bevoorreg om al vir 3 jaar deel te wees van Stilbaai Mannekoor, wat uit ongeveer 40 mans bestaan.  Sedert 1968 tot 2012 was hy en sy vrou ywerige Volkspelers, en was hy weereens bevoorreg om in 1974 saam met 7 oorsese lande vir 6 weke deur Suid-Afrika te toer en vir hulle as gashere op te tree.  Hulle Suid-Afrikaanse groep was gekeur, 15 neefs en 15 niggies.

In 2015 sluit hy en sy seun Danie (Jnr) by Agrisell aan as agente.  "Wat 'n voorreg!  Die Bestuurspan, met Jannie Fourie as Prinsipaal is puik" getuig Danie.

24 Nov 2017
Author Agrisell
Share
152 of 201
Sign-up for our newsletter
Sign-up for Agrisell's informative monthly newsletter with the latest industry news.