Agrisell Logo
Versoek 'n Trustee om te be bedank

Versoek 'n Trustee om te be bedank

"Ek is 'n trustee van 'n familietrust. Die ander trustees het my onlangs ingelig dat hulle van my vereis om te bedank as trustee.  Hulle het vir my geen redes gegee nie, behalwe om te sê dat hulle in staat is om dit te doen aangesien die trustakte vir hulle hierdie mag gee. Kan hulle dit sommer net so doen?"

Ons howe het besluit dat vyandigheid en meningsverskille nie voldoende gronde is vir trustees om 'n ander trustee van sy pligte te onthef nie. Wat is die posisie egter wanneer 'n trustakte die meerderheid van trustees magtig om 'n ander trustee te versoek om te bedank, en hulle dit dan ook so doen? Is dit 'n geldige verwydering van 'n trustee? Dié posisie is onlangs in die Vrystaatse Hooggeregshof aangespreek in die saak van Du Plessis NO en ander v Van Niekerk en Ander.

Die hof het besluit dat hoewel dit op grond van die trustakte se bewoording mag lyk asof die meerderheid van trustees korrek daarin is dat hulle van 'n trustee kan vereis om op versoek te bedank, dit nié korrek is nie aangesien 'n eensydige versoek om verwydering altyd om goeie rede moet wees en dat 'n geïmpliseerde bepaling van so 'n aard in die kontrak ingelees moet word. Verder is gelas dat die trustees wat die bedanking vereis ook nie kan beweer dat die bepalings van die trustakte hulle toegelaat het om sonder enige rede of selfs om kwade trou op te tree nie, aangesien hulle pligsgebonde is om redelik en as 'n goeie persoon op te tree.

'n Verdere punt wat die Hof uitgelig het is dat, gegewe die belange van die trust en trustbegunstigdes by die bedanking van 'n trustee, dit noodsaaklik is dat die nodige prosedurele vereistes gevolg word, wat vereis dat voldoende kennisgewing van die vergadering en van kwessies wat oorweeg moet word, gegee word. 

In hierdie saak het die Hof dienooreenkomstig bevind dat die versoek van die meerderheid van trustees dat 'n trustee bedank, nie geldig was sonder dat goeie redes aangebied is en die nodige prosedurele vereistes gevolg is nie, asook dat die trustee die geleentheid gebied word om vertoë te rig nie.

Hieruit wil dit voorkom asof jou mede-trustees verkeerdelik opgetree het in hul versoek dat jy bedank, en is dit raadsaam om jou prokureur te raadpleeg om te oorweeg of die versoek geldig is en watter verdere stappe geneem moet word, in ag genome die Hof se bevinding in die Du Plessis-saak.

23 Feb 2019
Author BDP Prokureurs
Share
115 of 201
Sign-up for our newsletter
Sign-up for Agrisell's informative monthly newsletter with the latest industry news.